Rooiverskuiwing

Rooi- en blouverskuiwing.

In die natuur- en sterrekunde vind rooiverskuiwing of slegs rooiskuif plaas wanneer die lig van ’n voorwerp wat van die waarnemer wegbeweeg, proporsioneel toeneem in golflengte (en afneem in frekwensie), en dus verskuif na die rooi kant van die spektrum. Die teenoorgestelde effek, wanneer ’n verskuiwing plaasvind na ’n korter golflengte (en groter frekwensie), dus na die blou deel van die spektrum, word blouverskuiwing genoem. Dit gebeur wanneer ’n voorwerp in die rigting van die waarnemer beweeg.

Hoe vinniger die voorwerp wegbeweeg, hoe langer word die golflengte en hoe groter is die rooiverskuiwing. Dieselfde effek in geluidsgolwe kom voor by die verandering in toonhoogte van byvoorbeeld ’n ambulans se sirene terwyl dit na ons ry of van ons af wegry: wanneer ’n ambulans na 'n waarnemer beweeg, verkort die klankgolwe en word 'n hoër toonhoogte gehoor en wanneer die ambulans wegbeweeg, word die golflengtes langer en word 'n laer toonhoogte gehoor.

In die praktyk is die rooiverskuiwing in liggolwe net meetbaar in voorwerpe in die heelal wat minstens ’n paar miljoen ligjare van die Aarde af is en teen baie hoë snelhede beweeg. Dit vind plaas vanweë die Doppler-effek en ’n sterk swaartekragveld waardeur die straling hom voortplant.

Rooiverskuiwing is veral belangrik in die sterrekunde omdat die meeste voorwerpe in die ruimte wegbeweeg van die Aarde af vanweë die uitdying van die heelal.


Developed by StudentB